Press

Beethoven Sonates - Beeld artikel

MUSIEK
’n Reis deur Beethoven-sonates
 
 

Hulle het mekaar verlede week die eerste keer ontmoet en nou gaan die Suid-Afrikaanse violis Zanta Hofmeyr en die Bulgaarse pianis Ilia Radoslavov saam ’n groot taak aanpak, naamlik die uitvoering van al tien sonates van Beethoven vir klavier en ­viool.

Radoslavov, wat al jare in Amerika woon, het Suid-Afrika in 2012 besoek. Hy het ’n vriend gevra of hy weet van iemand wat dié projek saam met hom kan aanpak, en Hofmeyr is aanbeveel.

Hy het ’n e-pos aan haar gestuur en gevra of sy sou belangstel. “Dit was nogal laf van my. Ek het oor haar gelees. Maar sou ons persoonlikhede aanklank vind, hoe goed sal ons saamspeel?”

 

Hofmeyr was dadelik positief oor die voorstel.

Hul eerste optrede is Saterdag in die Miagi-musiekskool in ­Soweto, daarna volg ’n paar ­optredes in die Brooklyn-teater, op 16 Februarie in Nelspruit en op 21 Februarie tree hulle in die Laerskool Jan Celliers op.

Dan volg ’n Amerikaanse toer. Radoslavov vertrek op 22 Februarie en Hofmeyr twee dae later.

Radoslavov is ’n mede-professor in klavier aan die Illinois Wesleyaanse universiteit naby Chicago in die VSA.

“Dit is baie werk,” sê Radoslavov. “Selfs vir mense wat dit gereeld doen. Dit is die eerste keer dat ek die tien sonates aanpak. Zanta het dit in 1999 gedoen. As student het ek twee daarvan gespeel. Ek het ’n ander een ook lank gelede gedoen. Ek en Zanta ruil idees uit, ons is oop oor ons menings. Sy is van groot hulp vir my. Jy lees oor wat mense sê van Beethoven. Jy luister hoe top-musici sy werk speel.”

Dit is ongeveer vier en ’n half uur se musiek, raam Radoslavov. Hulle gaan nie die sonates chronologies uitvoer nie.

In die speelvak in die Brooklyn-teater gaan hulle die sonates 1, 2, 3 en 5 vir die eerste konsert uitvoer, vir die tweede konsert 10, 6, en 7 en vir die derde konsert 8, 4 en 9.

Hofmeyr: “Die tiende sonate verskil baie van die voriges. Hy het dit in ’n later periode geskryf. Op ’n manier is hierdie sonate musikaal die moeilikste om uit te voer wat betref klank en beheer.”

Voorheen het Hofmeyr ietwat van ’n Beethoven-vrees gehad.

“Ek het dit moeilik gevind. Ek kon nie sin daarvan maak nie en ek het nie geweet hoe om dit goed te laat klink nie. Dit is hoekom ek in 1999 besluit het om die tien sonates te doen. Ek wou iets doen omtrent hierdie vrees. Dit was seker een van die grootste leerervarings in my ­lewe.”

Radoslavov het altyd baie van Beethoven se musiek gehou. Hy het eerder ’n vrees gehad vir die werk van Mozart, die komponis op wie se verjaardag (27 Januarie) hy in Suid-Afrika aangeland het.

“Ek sou nie sê dit raak makliker namate jy oefen om die tien sonates te speel nie,” sê Radoslavov. 

“Jy raak gemakliker. Jy geniet die musiek, maar dit is nooit maklik nie. Jy voel jy verstaan die musiek beter.

“Jy word heeltemal blootgestel aan daardie emosies en terselfdertyd moet jy in beheer bly. Daardie balans om die musiek te geniet terwyl jy ook moet konsentreer.”

Hofmeyr is bewus van die uitdagings wat dit fisiek en emo­sioneel stel. 

“Elke sonate het ’n ander ­karakter. Jy moet van die een na die ander beweeg. Dit gaan nogal ’n uitdaging in die konserte wees.”

  • Die vertoning Saterdag in die Miagi-musiekskool (op die terrein van die Morris Isaacson ­Secondary School in Soweto) word gratis aangebied en begin om 14:00. Die vertonings in die Brooklynteater is Sondag om 15:00, Woensdag om 20:00 en Vrydag 12 Februarie om 20:00. Kaartjies kos R90 tot R130. Die vertoning op 16 Februarie in die Penryn-kollege in Nelspruit begin om 19:00. Die kaartjies kos R20 tot R100, skakel 072 966 5197. Die vertoning in die Laerskool Jan Celliers op 21 Februarie ­begin om 16:00 en kos R50 tot R120. Kaartjies is by die deur te koop. Besoek zantahofmeyr.co.za vir meer inligting. 
  •  

 

Zanta

Zanta Hofmeyr Press

Upcoming Events

The Take Four Piano Quartet...
Thursday, 21 November, 2024 - 19:00