Concert Resumés

Zanta Elizabeth Hofmeyr CV 2018 Afrikaans

Zanta Hofmeyr is in Johannesburg gebore. Sy is die oudste van agt kinders van Jan en Elma Hofmeyr (geb. van Niekerk)

Zanta is een van Suid – Afrika se bekendste violiste. Sy begin op 7-jarige ouderdom met klavieronderrig en op 10-jarige ouderdom met vioollesse by Eva Jeskova. Van 13- tot 17-jarige ouderdom ontvang sy vioolonderrig van Vincent Fritelli. Haar kamermusiekmentors was Betty Pack en Alan Solomon. Haar eerste konsertoptrede met orkes was op 14-jarige ouderdom in ‘n uitvoering van die Wieniawski Concerto in d mineur.

Op 17-jarige ouderdom begin sy aan die Juilliard Skool vir Musiek in New York studeer. Haar studies word gefinansier deur geld wat sy in 1979 by verskeie beurskompetisies gewen het. Hier ontvang sy verdere onderrig van die wêreldbekende leermeesters Dorothy Delay, Masao Kawasaki en Hyo Kang. Na haar graduering het sy haar New-York-debuut in 1985 as die wenner van die Artists International-kompetisie in die ‘Weill Recital Hall’ gemaak (deel van Carnegie Hall).

Zanta het dieselfde jaar vanuit die VSA teruggekeer na Suid-Afrika en ‘n suksesvolle loopbaan as konsertviolis en vioolonderwyser gebou. Benewens jaarlikse optredes saam met pianiste tree sy ook gereeld as solis met verskeie orkeste in Suid-Afrika op. Sy voer onder andere concerti van Barber, Beethoven, Britten, Brahms, Bruch, Mendelssohn, Mozart en Wieniawski uit. Sy is ‘n groot voorstaander van nuwe komposisies en het die Suid-Afrikaanse première van ‘Raptus’ deur komponis Hendrik Hofmeyr saam met die Kaapse Filharmoniese orkes in 2003 en die Johannesburgse Filharmoniese orkes in 2005, sowel as sy ‘Nelle mani d’Amduscias’ vir solo viool in Johannesburg in 2007 uitgevoer. In 2008 voer sy en die pianis Malcolm Nay, Hendrik Hofmeyr se ‘Sonate vir viool en klavier’ uit wat aan hulle opgedra is. Die sonate was ook ‘n opdrag van beide Zanta en SAMRO (Suid-Afrikaanse Musiekregte Organisasie) wat dit geborg het. Díe eerste optrede het by die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom plaasgevind.

Die Britse komponis Richard Pantcheff dra ook ‘n sonate vir viool en orrel aan haar en die orrelis, Wim Viljoen op wat hulle in 2010 by die N.G. Kerk Universiteitsoord uitgevoer het. Sy was ook o.a. betrokke by uitvoerings van werke van Jeanne Zaidel-Rudolphe, Hans Roosenschoon, Stefans Grové asook die Maltese komponis Camillieri.

Zanta werk saam met ‘n verskeidenheid van kunstenaars. Saam met die pianis Malcolm Nay ontvang sy groot lof vir haar uitvoerings van die 10 vioolsonates van Beethoven, sonates van Brahms, Prokofiev en Grieg, Schubert en Schumann. In 2011 behaal sy saam met die pianis Elna van der Merwe groot sukses in ‘n konsert in die Teatro Manuelle in Valetta, Malta. Hulle tree ook gereeld saam op in Suid-Afrika en neem ‘n CD van Franse vioolsonates op. In 2016 onderneem sy ‘n toer in Suid-Afrika en Amerika saam met die Bulgaarse pianis, Ilia Radoslavov met uitvoerings van die 10 Sonates van Beethoven vir klavier en viool.

As kamermusikus neem sy deel in klaviertrios, strykkwartette en klavierkwartette. As deel van die Musaion Trio is sy in 2003 na Holland waar hulle by die Grachte Fees in Amsterdam en in die Paleis in Apeldoorn opgetree het. By die Grachte Fees het sy ook ‘n lesing in Zuid-Afrika Huis gegee oor ‘n televisieprojek saam met San-musici van Namibië en Platfontein waarby sy betrokke was. Sy het ‘n aantal kere as gaskunstenaar en leermeester opgetree by die Kinhaven Kamermusiekfees in Vermont asook by die Internasionale Kamermusiekfees in Stellenbosch. Sy is ook op die fakulteit van die Gauteng Chamber Music Festival in Pretoria.

As lid van die Goldberg Trio en -Kwartet was sy betrokke by uitvoerings van die trio-weergawe van die Bach Goldberg Variasies asook die volledige stel van Beethoven se Opus 18 strykkwartette. Hulle voer die werke by die Klein Karoo Kunstefees uit in 2010 en 2011. Sy is sedert 2012 lid van die Wits Trio en hulle verwerf o.a. lof by die Nasionale Kunstefees in Grahamstown vir hulle uitvoerings van al die Brahms Trios en Schubert Trios.

Sy was ook deel aan die jazz genre saam met kunstenaars soos Denis Lalouette, Surrendran Reddy, Denzil Wheale, Mark Duby, Rob Watson, Rocco de Villiers, Charl du Plessis en Wessel van Rensburg.

Sy neem verskeie CDs op:

  • Zanta Hofmeyr plays Arioso – saam met orrelis Wim Viljoen.
  • Romantic Violin – saam met pianis Malcolm Nay
  • Cantilena – saam met orrelis Wim Viljoen
  • Beethoven Tango – saam met pianis Charl du Pleassis
  • French Violin Sonatas – saam met pianis Elna van der Merwe
  • Beethoven Sonatas for piano and violin, 2,4 6 – saam met pianis Illia Radoslavov

Sy gee deurgaans vioolles, hetsy privaat of by universiteite. Sy was verbonde aan die Universiteit van Noordwes, die Universiteit van die Witwatersrand en vanaf 2000 vir vyf jaar mede-professor by die Universiteit van Pretoria. Sedert 2006 is sy deeltyds betrokke by laasgenoemde twee universiteite. Sy het klas gegee by die Morekolodi skool in Ga-Rankuwa in 2000-2002 is tans beskermheer van die Thabang ka Mmino musiekprojek in Soweto.

Sy dien dikwels op beoordeelaarspanele by vioolkompetisies. In 2016 was sy op die paneel van die Rudolfo Lipizer vioolkompetisie in Italië.

Sy het verskeie benoemings ontvang o.a. Rapport/City Press se ‘Woman of the Year’ in 2004, in 2005 ‘n Afrikoon toekenning van die ATKV, SAMA en Fiësta nominasies. ‘n Groot eer het haar te beurt geval toe die roosteler, Ludwig Tassner in 2003 ‘n roos na haar vernoem het.

Zanta

Zanta Hofmeyr

Upcoming Events

The South African piano...
Friday, 9 May, 2025 - 19:00
Come and enjoy a wonderful...
Sunday, 25 May, 2025 - 15:30