Press

Duo vind mekaar via Beethoven se vroeë sonates - Paul Boekkooi, Beeld

MUSIEK
Duo vind mekaar via Beethoven se vroeë sonates
 
 

 

Beethoven-sonatesiklus – Zanta Hofmeyr, viool; Ilia Radoslavov, klavier

Brooklynteater, Pretoria

 

Die geskiedenis van die viool en beroemde violiste is vol van ernstige beskrywings asook staaltjies oor Beethoven se tien sonates vir klavier en viool – fassinerende werke wat dié twee instrumente op ’n nuwe en hoër vlak sedert Mozart bymekaar gebring het.

Dit is nou ruim twee eeue nadat Beethoven die laaste van sy tien vioolsonates, dié in G, opus 96, gekomponeer het. Dié Everest onder sy vioolsonates kyk vooruit na hoe dié kombinasie oor die volgende twee eeue sou ontwikkel.

Zanta Hofmeyr is geensins ’n nuweling wat dié sonates betref nie, maar elke herontmoeting kom by enige ondernemende musikus, of dit nou die violis of die pianis is, neer op ’n her­rese beskouing van dié kragtige oeuvre binne die komponis se skeppingswerk.

Hofmeyr se taak was dié keer riskant en des te meer uitdagend omdat sy vir die eerste keer met die Bulgaarse pianis Ilia Radoslavov sou saamwerk. Ná Sondag se eerste van drie konserte kan enige skeptikus gerus nederig raak: Die twee musici het mekaar via Beethoven gevind.

Vier sonates is uitgevoer: die opus 12-reeks wat bestaan uit dié in D, in A en in E-mol, en die No. 5 in F, opus 24, met die bynaam Lente.

Om die peil te bereik waar die vroeë drietal volledig tot hul reg kom, moet daar sprake wees van egte duospel, fyn saamverweef maar ideaal gesproke ook ryklik gekontrasteer. Hieraan is volkome voldoen.

’n Ander sine qua non het betrekking op die affiniteit wat albei spelers met Beethoven se spesifieke idioom toon. Albei moet Beethoveniaanse frases kan laat asem skep. 

Ook dit is bereik, maar nie altyd met deurlopende konsentrasie nie. Soms was die pianis se aksente ietwat te grofkorrelrig, maar meer daaroor later.

Die feit dat Mozart en later Beethoven hierdie duosonates as synde vir klavier en viool beskryf het, slaan slegs op die feit dat die klavier komposisioneel beskou nie as minderwaardig beskou durf word nie. Maar in wese is die twee instrumente volkome gelykwaardig te midde van die deurlopende wisselspel waar die een periodiek domineer, terwyl die ander slegs dán meer ’n begeleidingsfunksie vervul.

Besonder ryp was die vroeë sonates se stadige(r) sentrale dele, met vlakke van ekspressiwiteit wat knap gehandhaaf en op die korrekte plekke opgebou is. 

Reeds by die vierdelige Lentesonate is ’n kernagtige en dieper belewing ervaar, met lewendige toonproduksie sonder enige opgesmuktheid waardeur hoë vlakke van absolute suiwerheid kon gedy.

Binne die spesifieke akoestiese kenmerke van die Brooklynteater het dit gebeur dat die klavier gedomineer het. Dit het die violis se meer verfynde passasiewerk soms onhoorbaar gemaak. 

My dringende versoek is dat die Steinway se vleuel liefs net tot op die halfstokposisie gelig word.

Dié duo se tweede konsert vind vanaand om 20:00 plaas en die derde een Vrydagaand om 20:00.

 

Zanta

Zanta Hofmeyr Press

Upcoming Events

UNISA Concerts presents the...
Sunday, 12 November, 2017 - 16:00